Self Liefde, Self Waarde, Self Waardering

Self Waardering, Self Liefde, Self Waarde

Meditasie Gedagtes en fokus vir nou en altyd

Volhou die gevoel van Liefde en innige waardering vir ‘n paar minute en voel die sagte kalmte wat oor jou neerdaal soos ‘n Moederskombersie oor ‘n slapende baba.  Hier is jy, en tot hier het jy gekom. Stampe en stote. Wel gedaan – Ons gaan nou sterker, wyser en met groter genot voortgaan.

Hoe jy van hier af voortleef hang in die eerste plek af van jou ingesteldheid. Waarop kies jy om te fokus. Vir die volgende paar minute gaan ons fokus op Liefde, Genade, Omgee vir jouself.

Die gevoel van sagte waardering en liefde skei hormone in jou brein af wat lei tot ‘n positiwiteit waar geluk, gesondheid, vrolikheid, kreatiwiteit, welsyn en ‘n gesonde gemoedstoestand kan groei en floreer.

Kom ons vergeet vir ‘n paar oomblikke van alles wat in die wêreld aangaan en dink net vir ‘n rukkie aan alles wat ons waardeer en wat dikwels daagliks ongesiens en onbewus verbygaan. 

Maak jou oe toe of versag jou uitkyk en terwyl jy saggies fokus op die woorde.

Bedink vir ‘n oomblik hoe die haartjies in jou neus vir jou werk. Neus haartjies is ‘n natuurlike deel van die menslike liggaam wat dien as ‘n filtreerendere verdedigingstelsel. Dit hou skadelike elemente uit en hou die lug wat ons inasem vogtig.

Verder agter in jou neus is selfs kleiner haartjies genaamd silia wat jy slegs met ‘n mikroskoop kan sien. Die cilia beweeg heen en weer om sinusse skoon te hou. Silia doen dieselfde werk vir jou in die wande van jou luggange en longe. Alles terwyl jy totaal onbewus daarvan is. Een van miljoene outomatiese funksies van jou wonderlike liggaam.

Haal nou met meer respek en waardering stadig, diep en rustig asem.

Rustige diep asemhaling stuur ‘n sein na jou brein dat alles in orde is vir nou, die brein kan ophou aandag gee aan eksterne faktore, totaal ontspan en al die beskikbare energie gebruik om selle te voed, herstelwerk te doen en‘n gesonde gemoedstoestand te bevorder.
Wanneer negatiewe gedagtes opkom, vee dit eenkant toe – dit is net ou waardelose gedagte patrone wat later aandag kan kry en mettertyd weg sal smelt soos dit in onbruik verval – waar dit hoort. Ons gaan nou nuwe gedagte patrone vestig wat jou baie beter sal dien.

Luister elke dag vir 21 dae hierna en sien self die verandering in jou gemoed, lewe, gesondheid en geluksvlakke

Haal nou met bewussyn stadig, diep en rustig asem. Kry ‘n stadige, rustige ritme en hou dit vol. Keer terug daarna elke keer dat jy agterkom jy het opgehou.

Indien moontlik, maak toe jou oe en plaas jou hande saggies op jou gesig. Of word net bewus van jou kop in die uitspansel van die hele heelal daarrondom.

My hande en/of fokus is nou op my voorkop
Ek waardeer my brein
vir al my mooi gedagtes,
vir al my gedagte prosesse,
vir al my miljoene flikkerende synapse per sekonde,
vir my bloedvloei, suurstof, waarnemings, gevolgtrekkings, gehue en leerprosesse.    
    Ek vertrou my brein om my altyd te probeer help en te werk VIR my. Ek onderneem om my brein goed te voed met gesonde brein-kos, suurstof, oefening, slap, groeiende bewuswording en blootstelling aan nuwe dinge. Ek herprogrammeer nou my brein om my te herinner dat ek deel is van ‘n eindelose, intelligente, liefdevolle lewens-energie.

Ek haal diep asem en raak rustiger en beweeg my hande en fokus saggies na my oe.

Dit laat my saggies glimlag in die herinnering van al die mooi dinge wat ek al gesien het.
Al die kleure,
al die glimlagte,
al die hartseer wat my empatie geleer het en meer mens gemaak het
al die omgee,
al die liefde,
al die blomme
al die uitsigte,
al die kuns,
al die inspirerende mense
Al die spieëlbeelde van myself – ek is slim, wys en dapper om hierdie eeu-oue proses te probeer. Ek kan in privaatheid met Liefde na myself kyk in die spieël en lief voel vir die dapper mens agter my gesig.

Ek weet dat ek al hoe meer mooi detail raaksien, hoe rustiger ek is.


Ek haal diep asem en raak rustiger.  

My hande en fokus skuif nou sagies na my neus
Ek voel die kraakbeen onder my vel, ek dink aan die Silia en die onverpoosde werk wat dit vir my doen – sonder enige fokus of moeite.
Ek waardeer my neus wat my waarsku wanneer iets brand, vuil of vrot is, wat my na blomme toe laat oorstap en dit die geur met oorgawe diep laat inasem. Wat mooi herinneringe oombliklik op die film skerm van my brein uitsaai met die ruik van ‘n ou bekende reuk, en die hele storie ontvou. Wat my eetlus kan prikkel met beloftes van watter smake saam met verskillende reuke gaan.  Wat my kan veras met sensasies en my brein prikkel en inspireer tot aksie.


Ek haal diep asem en raak rustiger.  My waardering vir my lyf word dieper en mooier.

My hande en fokus skuif nou saggies na my ore
Sonder my begrip van hoe presies my ore vibrasies van klank omskep na iets wat sin maak en betekenis het, gaan die hoor proses voort.
Ek dink aan al die geliefde klanke van my mense se stemme,
 al die mooi musiek wat my hart snare kan beweeg, of selfs my hele liggaam inspireer om te dans.
Al die geluide wat ek ken, al die mooi woorde wat ek al gehoor het.
Al die stilte wat my ore al ervaar het.


My hande en fokus skuif nou op my lippe
Ek haal diep asem en raak nog rustiger.  
Ek dink aan hoe maklik my lippe woorde form.
Ek waardeer al die soene wat ek kan gee en ontvang
Al die mooi woorde wat ek kan fluister of skreeu
Al die lekker kos wat ek van my lippe kan aflek
Ek waardeer alles binne in my mond wat werk!
My tong, my spoeg, my wange, my tande, my verhemelte – die hele briljante ontwerp.
Ek waardeer my lippe!

My hande en fokus skuif nou liggies na my nek en keel
Ek haal diep asem en raak rustiger.  

Ek waardeer my nek en keel. Al die asemhaling wat ononderbroke daardeur vloei.
Al die geluide wat ek al gemaak het van baba tot nou en tot die einde.
Al die kos wat ek daardeur kan afstuur na my maag.
Al die son wat ek op my vel kan voel
Al die vogroom, al die serpe, al die dasse,
al die armpies wat kan vashou om my nek.
al die omkyk, al die opkyk, al die rondkyk.
al die spiere wat my kop regop hou.




My hande en fokus skuif nou saggies na my bors.
Ek haal diep asem en raak rustiger.  
Ek voel my hartklop. Ek voel my longe en ribbes op en af beweeg – ritmies en rustig.
My hart voel vol Vol liefde vol lewe, vol van waardering, vol hoop van die wete dat ek besig is om die beste deel van myself te herontdek. Vol van waardering vir die wysheid van hierdie paar minute van rustigheid.
Vol nuwe vars suurstof en nuwe vars krag vir die dag.


Ek voel Rustig. Ek voel Sterk. Ek voel asof iets binne in my skyn van plesier.
Eks is bewus van die lewenskrag van my wese.
Bewus van my inherente vermoë om alles te oorkom met ‘n kalm gemoed.

Haal altyd diep en rustig asem – heeltyd, altyd en oral.


Jy en die lewe het mekaar liewer as wat jy dalk van bewus is.

En onthou… Gesonde Gedagtes, Gesonde Lewe.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *